Saam doen-en-gesels idees vir gesinne…

Wie sou kon dink dat ons gejaagde lewe en “nie-tyd-hê-vir-mekaar”  so vinnig sou verander?!  Ons leef tans in ‘n onbekende en interessante tyd.   Wat ek graag wil raaksien en op fokus is die geleenthede wat saam met die ongemak en onbekendheid kom – veral tov ons gesinne.

Daarom begin ek die week om saam met Ds Rudolph se weeklikse Nuusbrief ‘n paar gedagtes en idees vir u as ouers/gesinne uit te stuur om byvoorbeeld Sondag se erediens in die week bietjie verder te neem as ‘n gesprekspunt in jul huis. Laat weet my gerus as julle dit sinvol vind of voorstelle het vir meer insette – ek wil graag dat ons mekaar bemoedig en bemagtig in die tyd.

Sondag se boodskap van Ds WP het oor Psalm 46 gehandel en oor die onwrikbare vertroue wat ons kan hê in God se trou en beskerming in onseker tye.  Die volgende idees kan dalk help om ‘n geleentheid te skep om verder te gesels met jou kind/kinders. Besluit maar self wat gepas is vir jou kinders se ouderdom, maar moenie bang wees om iets anders of iets buite jou gemaksone te doen nie, dis dalk juis daardie gesprek wat soveel meer vir hulle beteken en leer.

Idee 1:

Bou saam ‘n “huisie” met komberse of lakens oor die tafel en stoele in julle huis. Kruip saam binne-in en gesels met jou kind oor hoe dit voel in die huisie, waarvan ons veilig is daar binne, hoe sterk die huisie is teen bv. storms en gevare. Vra vrae oor wat sou dit veiliger of sterker kon maak en waar hulle dink veilige plekke is teen gevare en storms. Vertel of lees dan saam Psalm 46, en veral vers 2. Gesels saam oor hoe die Here vir ons ‘n veilige plek is, ‘n toevlug – ‘n plek om na toe te gaan as daar gevaar is en dat Hy ons beskerming is.

Vertel ook uit jou eie lewe dalk van kere wat jy in moeilike tye na die Here toe gegaan het vir beskerming en hulp en hoe Hy vir jou ‘n toevlug was. Dis belangrik dat hulle hoor dat ma/pa ook (soms) bang en onseker is en hulp nodig het en wat hulle/julle dan doen. Maak dit prakties vir die kinders deur byvoorbeeld te dink aan en te praat oor “Hoe” gaan ek na die Here toe as ek bang of onseker is?  Gedagtes soos stil raak, deur te praat met God, deur vir iemand te vra om vir jou te bid, om die versie van die psalm te herhaal, die Bybel te lees of om te dink aan ‘n veilige plek in my gedagtes en daar met God te gesels… is dalk van die idees.

Sluit saam af deur elkeen te vra om iets te noem wat hulle nou onseker of bang maak en bid vir mekaar daarvoor spesifiek.

Kies as gesin een van die teksverse in die Psalm, of elke kind kan ‘n ander vers kies, en teken, skryf of verf die teksvers op papier en plak dit op in die huis – om te memoriseer en te onthou in die tyd.  Begin dalk jul dag saam en kyk wie kan al die vers/verse uit hul kop onthou.

Idee 2:

Die “Sela” woord wat 3 keer in Psalm 46 voorkom, is vermoedelik ‘n musiekterm wat beteken “om asem te haal”, “om te rus”.  Ons kan dus aanneem dat die woord die leser vra om te stop, asem te skep en ‘n bietjie te dink oor wat hy/sy nou net gelees het.

As gesin kan julle dalk een van die volgende “rus-idees” die week gebruik:

•     Gaan sit gemaklik of lê op ‘n kombers in die natuur, in jul tuin, in julle agterplaas of op die stoep. Let op die kleure wat julle om julle sien, die verskillende teksture van goed om julle en raak bewus van alles om jou. Luister na die geluide wat julle hoor. Die geluide ver van die huis af, die in jul eie tuin en dan ook nog nader soos die geluide in jou eie lyf – hart wat klop, asemhaling of ‘n maag wat grom. Laat iemand dan Psalm 46:11 lees – lees dalk uit meer as 1 vertaling.  Gesels daaroor dat om te “Bedaar”, om “Stil” te wees, nie net stilsit beteken nie, maar ook stilword in ons binneste, om in ons harte rustig te wees want ons weet God is in beheer.

•    Knip prente uit tydskrifte of teken prente wat vir julle RUS simboliseer of uitbeeld. Skryf die teksvers van Psalm 46:11 daarby neer.

•    Maak saam ‘n speellys van liedjies wat elkeen rustig maak. Neem kussings en

komberse en maak ‘n “familie-bed” en luister saam na die liedjies.

•    Kies ‘n aand/tydgleuf of ‘n dag waar julle “rus” van tegnologie. Sit al die selfone en rekenaars neer en sit die TV af. Kies ‘n aktiwiteit wat julle saam kan doen as gesin. Byvoorbeeld bordspeletjies speel, saam kos maak of almal saam lees, of dalk kan een ‘n storie vir die hele gesin voorlees, blaai deur ou foto albums of leer die kinders van die speletjies wat julle as ouers gespeel het toe julle kinders was en laat hulle julle weer een van hulle gunstelinge leer.

Idee 3:

Die oulike storie kan jy dalk sommer uitbeeld en as ‘n inleiding gebruik om saam Psalm

46 te lees en te gesels oor die praktiese toepassing daarvan.

Laat ‘n potlood plat op jou hand lê. Vra: Kan die potlood regop staan? Die antwoord is (hopelik) Nee.  Vat hom met jou ander hand en hou hom regop op jou hand.  Die reaksie sal dalk wees dat jy hom nou vashou. En dis reg ja, jy hou hom vas, maar hy staan nou regop.

Toepassing:  Ons in die lewe is soos die potlood, hulpeloos en meestal magteloos. Ons kan nie self regop staan of regop bly nie. Christus is die “hand” wat ons regop hou.

Lees Psalm 46 en gesels oor van die vrae:   Wanneer voel jy/mense hulpeloos, magteloos?  Wat doen ons gewoonlik in sulke situasies?  Wat sê die Here deur die Psalmskrywer vir ons kan ons doen as ons magteloos, hulpeloos of bang voel? Dink jy God kan jou vashou en regop hou? Wat weet jy van God se karakter wat vir jou dit waarborg? Hoe dink jy voel dit om deur God “vas gehou” en “regop gehou” te word? Wat wil julle dalk nou vir God vra? Waartoe dink julle nooi Hy julle uit?

Bid saam vir mekaar – stuur die potlood om en laat elkeen bid soos die potlood by hom kom.

Idee 4:

Doen saam ‘n paar wiskunde somme. Vra somme wat maklik in die kop uitgewerk kan word, en maak dit dan al hoe moeiliker tot waar julle dan ‘n sakrekenaar nodig het om die antwoord te bereken.

Gesels oor die feit dat ons met probleme te doen kry wat ons maklik self kan oplos soos om te besluit wat om aan te trek, of wat ons wil eet. Maar dat ons ook soms met probleme te doen kry waar ons hulp nodig het – en dis heeltemal “okay” om hulp nodig te hê.  Lees saam Psalm 46, veral vers 2-3. Gesels saam wat die gedeelte vir julle sê. Dis goed om te weet dat God altyd daar is om ons te help met enige probleem of moeilikheid wat ons kan hê.

Die engelse vertalings gebruik die woorde:  “ever present help” en “always available whenever I need you”. Hoe laat dit jou voel om te weet jy hoef nie ‘n afspraak te maak om God te vra om hulp nie, Hy is altyd beskikbaar. Wat wil julle dalk nou vir God sê? Wat dink julle wil God hê moet julle weet en onthou nav die gedeelte?

Bid vir mekaar en sê dankie vir die Here vir Sy altyd teenwoordige gereedheid om ons te help.

Seën vir julle week!!

NS! Onthou jou kinders “hou jou dop” – en is heeltyd besig om by jou te leer oor hoe om in die wêreld op te tree en te reageer op omstandighede – juis ook in hierdie onsekere tyd!  So let op wat jou woorde en dade sê van jou verhouding met God en vertroue in Hom. Theresa