DIE KERK IS ALLES BEHALWE GESLUIT…..
OF IS DIT?
Skriflesing Rigters 7:2 – 7, 21 en 22 Hand 2: 42, 47
Israel was in groot moeilikheid.
- Vyandelike volke het hulle rot en kaal gesteel
- Hulle het verarm
- Hulle het gepleit om verlossing
God het gehoor en stuur vir Gideon om hulle te verlos
- Gideon het ‘n mag van 32 000 bymekaar gemaak
Maar God sê dis te veel en die banges word huistoe gestuur
10 000 is steeds te veel en na die waterdrinktoets bly 300 oor…
God se verduideliking was:
Israel sal spog … Ek het myself gered!
Terwyl die 300 man om die vyand gestaan het
en die ramshorings blaas
het die Here dit bewerk dat die vyand mekaar begin uitmoor en in die chaos is duisende verslaan…
Twee dinge is duidelik:
- gehoorsaamheid is al vereiste om groot dinge te doen
- God is die Magtige wat deur ons aan die werk is.…
Die tweede gedeelte wat ons gelees het vertel van die gebeure na Petrus se preek en die 3000 wat tot bekering gekom het.
Nog talle mense het daarna tot bekering gekom
En as ons die rede daarvoor gaan soek sien ons
- dat hierdie mense nie gaan kerk bou het en
- en dan Sondae in die kerk gaan sit het
- na ‘n preek gaan luister het
- lekker gaan sing het
- en daarna sondagskool gehou het
- of dalk bidure gehou vir verandering in menseharte
- bybelstudies bygewoon
en dan huistoe gegaan het tot vlg keer nie…
Nadat die Here in hulle harte gekom het
- het hulle ‘n yslike verskil gaan maak
daar waar hulle gelewe het
In Hand 2:42 vertel Lukas wat die geheim was:
Hulle het hulle heelhartig toegelê
- op die leer van die appostels en
- die onderlinge verbondenheid,
- gebede en
- gemeenskaplike maaltyd
HEELHARTIG … met hart en siel… met oorgawe….
- is daar na mekaar uitgereik en na mekaar omgesien
En die resultaat:
- mense het na die Here toe gestroom….
- dag vir dag nuwe bekeerlinge….
Is dit nie waaroor ons droom nie?
- ‘n nuwe mooier wêreld
- mense wat binnekant oorgemaak is…
- mense wat SAAM met ons streef
om die liefde en vrede wat hulle leer ken het
uit te lewe in al hulle verhoudings
‘n Ds in Moreletapark vertel van prediker in Amerika
met die naam Irwin McManus:
Hy het nie ‘n kerkgebou nie – hy huur geboue om kerk in te hou
Hy werk op 4 sulke plekke in Los Angeles
Toe iemand hom vra
WAT BIED JOU KERK VIR DIE MENSE?
was sy antwoord:
‘N GELEENTHEID OM DIE HERE TE DIEN!
Om deel te word van hierdie gemeente beteken dat jy verander
van ‘n verbruiker na ‘n belegger:
Van iemand wat net wil kom ontvang
na iemand wat wil gaan gee
Ons het pragtige kerkgeboue oor die hele land
Ek behoort aan die FB groep: Kerkgeboue in SA en sien die ongelooflikste geboue wat oor eeue oral in ons land gebou is
- Geboue met selfs meer as 1000 sitplekke
- Geboue wat Sondae al leër raak…
- Geboue wat monumente geword het
- Geboue wat museums geword het
- Geboue wat deur meer toeriste as lidmate besoek word
- Geboue wat nou kantore geword het
- Geboue wat leeg en vervalle geraak het
Net so leeg en vervalle
- soos in mense daar buite se harte
maar tragies…..
Net so leeg en vervalle
- soos talle lidmate se harte….
en daarom geen wonder dat die wêreld lyk soos hy lyk nie
Broers en susters
Hoe lyk ons gemeente of gemeentes?
Dis nou ek en jy!!!
Het ons ook monument geword
- ‘n Vae herinnering van vervloë vuur vir die Here
- Wat hoogstens bybelverhale kan oorvertel…
- Wat sonder getuienis lewe
Omdat HY nie in ons HARTE en ons DADE lewe nie!
As ons na hierdie doodsheid + leweloosheid + kragloosheid van die kerk kyk dan besef ons opnuut hoe nodig dit is
dat ons by Jesus gaan sit om weer na sy Woord te luister
Ons moet WEER HOOR hoe die kerk moet lyk en doen
Hoe EK en JY moet lyk en doen
En ons moet kennis neem dat dit GOD is
wat die vernuwingswerk gaan doen
As God medewerkers kies kyk hy nie na
- afkoms
- status
- geslag
- ouderdom ….. nie
Sy eerste span van 12 was eenvoudige vissermanne
Die 3000 bekeerdes was iets van alles en van oral
Gideon was n onbekende jong man
Moses was ‘n hakelaar
God vra bloot vir my en jou: Is jy in of is jy uit?
Ons antwoorde bepaal
- of die monumente gaan vermeerder
- en of die beweging van vernuwing aan die gang kom
Waarvoor deins ons terug?
Wat ons die meeste bang maak is die prentjie hier bo (kop)
- wat ons self geskep het
- van wat ons moet doen of sê
- om weer ons kerke vol te maak
As ons by Jesus gaan sit en na Hom luister
hoor ons dalk iets anders as wat ons gedink het …..
As ons voel dat die gemeente, kerk hier in Losberg lamgelê is deur die geslote deure is ons in die moeilikheid…
Die kerk van Hnd 2 was daar buite volstoom aan die kerk wees
As ons verstaan dat Sy dissipels aan liefdeswerk geken word
dan kan ons nie bly by dit wat in en om die kerk gebeur
terwyl daar 1000de reg rondom ons
- honger is
- dors is
- eensaam is
- verneder word
- verniel word
- verwerping beleef ens……..
Ja die kerk is ‘n veilige hawe waarheen ons kan eenkant gaan
- nie as wegkruipplek nie
- nie as plek van valse gerustheid nie
- nie as eindpunt nie
maar as plek waar ons as geloofsfamilie aan Sy voete kom sit
- vir versterking
- vir bemoediging
- vir motivering
vir die UITGAAN EN JESUS TE WEES deur ons dade…
WAT bied ons aan die mense van Fochville en omgewing?
Mag dit meer wees as ‘n plek waar ons
- ou rituele probeer in stand hou
- as’t ware uit as wil vlamme aanblaas
sonder om die oorsaak van sterwe te bevraagteken…
Mag Losberg gemeente
- ‘n familie van gelowiges word
- ja selfs ‘n familiebeweging word
- wat nie ingestel is op wat ons kan kry nie
- maar wat ons kan gee
Ons logo daar buite is twee hande wat om mense gevou is
Die motto: Ons gee om vir mekaar en vir die wêreld
NOU IS DIE TYD OM
- of die daad by die woord te sit
- of om net nog ‘n monument te word
Die kerk het van binne gesterf
Van binne ons
- selfgenoegsame
- selfsugtige
- ongevoelige harte
Mense het weggekwyn
- langs ons en
- om ons in
- in ons huise en families
Mag die Here ons weer
- ‘n oog gee vir elkeen rondom ons se pyn en seer
- ‘n hart gee wat saam ly en saam huil
- hande wat uitstrek om te
- troos
- voed
- verpleeg
- op te help
soos wat Jesus dit gedoen het!
Dan is die kerk
- wawyd oop
- volstoom aan die werk
- aan die verskil maak
GETROU AAN HAAR ROEPING!
Amen