Oppad na vernuwing
Skriflesing: Joh 14:26 Wanneer die Vader … die Heilige Gees stuur sal Hy julle alles leer en herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het
Joh 20:21, 22 Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle…ontvang die Heilige Gees
Op die tweede Sondag in Januarie het ons ‘n spesifieke pad gekies:
Onthou jy dat ons as’t ware saam ingesien en ingestem het dat
‘n baie spesiale jaar op ons wag as ons God op sy Woord neem.
Op hierdie pad was daar tot dusver talle stilhouplekke vir oordenking:
Ons het begin deur terug te dink aan God se kersboodskap
- van die Raadsman, Leidsman wat na die stukkende wêreld sou kom om ons te kom herskep van binne af
En ons het besluit om te luister en te volg:
- ons begeer tog immers almal iets mooier en meer as die stukkend
Ons het die belofte gehoor van die Middelaar:
- Een wat in ons plek sou kom staan
- Een wat ons sou vry maak
By nog ‘n stilhouplek met ons nadenke oor die kruis
by die skeuring van die voorhangsel – is ons verseker
- van vrye toegang na God
- en dat ons dit met vrymoedigheid na Hom mag gaan
met alles wat ons op die hart het
By ‘n volgende stilhouplek is ons herinner aan die talle steeds in pyn
En moes ons hoor dat Hy
- ons as medewerkers roep
- mede-herskeppers van hierdie stukkend
Ander stilhouplekke was waar ons moes verstaan dat herskepping
- BY MY BEGIN!
Daarom het ons ‘n paar keer stilgehou by plekke
waar ons eie herskepping aandag moes kry:
Ons moes die fokus verstaan: Christus is die model
Ons moes dit wat die fokus op Jesus verhoed begin aanvat:
‘n paar reuse in ons lewens soos
- ongeduld
- onvergewensgesindheid
Verseker is ons nog nie klaar daarmee nie
maar op ons kerkkalender is ook ander stilhouplekke
Die volgende was opstanding en hemelvaart:
Christus
- het opgestaan en so die oorwinning oor die dood bekragtig
- en daarna opgevaar en ons plek gaan gereed maak
Ons kleindogter hou nie van hersiening nie:
- Sy sê maklik: Já ek weet dit al!
Dalk voel jy ook al soos sy: Gaan net aan… ons weet dit nou al…
Natuurlik is daar baie dinge wat ek en jy al lankal weet
en is daar min, indien enige wat jy nog nie gehoor het nie
en tog is daar nog steeds soveel seer
- in jou eie lewe
- en in die wêreld om jou
DAAROM is dit nodig dat ons weer by ou bekende plekke aftrek:
Hopelik gaan ons NA ‘n paar stilhouplekke vorentoe met nuwe entoesiasme die res van die pad aanpak.
Ons haas ons na PINKSTER – die volgende hoogtepunt:
Onthou nou: Die drie-eenheid is in werking
Agter alles staan God die Vader
- Skepper
- en Herskepper van dit wat deur sonde verwoes is
- Sy verlossingsplan verwerklik deur Christus en die Gees
Dit bring ons by die Heilige Gees
- Die Gees skenk aan ons geloof
- Die Gees skakel ons by God se plan in:
- as ontvangers
- én verspreiders
van die Nuwe lewe.
Deur die eeue het geestelike doodsheid herhaaldelik die kerk
magteloos en sonder geestelike vrug gelaat.
In 1860 was daar groot herlewings in die Kaapse NG Kerk-familie.
nadat mense oral bymekaar gekom het om te bid vir herlewing
- En toe dit gebeur het dit oral versprei
- bekering het plaasgevind en sendingwerk het groot gegaan
Die tien dae tussen die Hemelvaart en Pinkster het in die NG Kerk
- ‘n tyd van gebed geword: ons pinksterbidure
- ? tyd van afwagting en gebed dat God nuwe vuur sal stuur
Ons is gered en geroep om nie meer vir onsself te lewe nie…
Die wese van die kerk is dat die Gees ons die wêreld instuur.
Soos God vir Jesus gestuur het
stuur Hy ons nou verder met die krag van sy Gees
As die Gees in ons begin werk…. dan kan jy dit nie keer nie….
Luister maar na Paulus se getuienis: 2 Kor 2:14
God voer ons saam op sy triomftog
omdat ons een is met Christus
In Pinkster is die tyd waarin ons getuienistaak na buite klem kry.
Dis ? tyd waarin ons as kerk opnuut herinner word
aan watter vreemde organisasie ons eintlik is:
Waar alle ander organisasies daar is vir hulle lede,
is hierdie organisasie, die kerk, juis daar vir die nie-lede.
Maar kom ons sê dit by herhaling vir mekaar:
Ek kan nie vir iemand iets gee wat ek nie self het nie
Ek kan nie vir die wêreld Jesus wys
- voordat die Gees my nie soos Jesus gemaak het nie
Mag ons dus in die dae wat kom
- voortgaan in ons strewe na vernuwing
- onsself steeds toewy om Hom te hoor en te gehoorsaam
- meer as ooit begeer om aan Christus gelykvormig te word
Mag ons verstaan dat ons onsself nie moet bekommer
- oor of en hoe ons getuies sal kan word nie
Mag ons leer en verstaan
- dat innerlike vernuwing onkeerbaar na buite oorloop…
- dat HY ons gewillig en bekwaam maak
Daarom roep ek jou op dat ons saam in hierdie dae onsself
met hart en siel sal onderwerp aan God dat Hy deur sy Gees sal voortgaan met sy herskeppingswerk in my…
- ons sal oormaak
- ons sal heelmaak
- ons bruikbaar sal maak
Bid saam met my die woorde van LB 528:1
Leer my U wil Heer, U doel met my
U Pottebakker, met my die klei
Vorm my en maak my volgens U wil
Op U bly wag ek – nederig stil!
Amen