LYDENSTYD 2020

‘n Dag met gelykenisse

Votum

Liturg:   Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen ons eie pad geloop,

Almal:   Here, dink aan my

Liturg:   Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het hy gedra

Almal:   Here, dink aan my

Liturg:   Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel

Almal:   Here, dink aan my

Liturg:   Die straf wat vir ons vrede moes bring was op hom,

             deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom

Almal:   Here, dink aan my

Liturg:   Dit is volbring!

Almal:   Amen.

Nadenke

Hierbo afgedruk is ‘n gegraveerde paneel uit die 5de eeu n.C. wat uitbeeld van links na regs:

Pilatus wat sy hande in onskuld was, Jesus wat sy kruis dra en Petrus wat Jesus verloën, met die haan regs bo en die diensmeisie wat die vinger na hom wys. 

Kyk met jou hart daarna: 

  • Is ook ek iets van ‘n Pilatus,

    wat ‘n middeweg wil volg en nie vir of teen Jesus wil kies nie? 

  • Is ek iets van ‘n Petrus

    wat Hom ken wanneer dit my pas?

Gebed – Martin Luther (1483-1546)

Here, my beker is leeg en ek verlang dat U my weer sal vul.  Ja, Here, kom vul my!

Ek is swak in die geloof – kom en versterk my opnuut.

My liefde is maar lou – kom, Here, en maak my weer warm … vurig, dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my.

My geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik – ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om op U te vertrou.

O Here, help my.  Sterk my geloof en vertroue.  In U vind ek my rykdom.  Ek is arm en U is ryk – en U het juis gekom om vir armes U genade uit te deel. 

Ek is ‘n sondaar, U is regverdig en daarom bly ek aan U sy.

Ek het niks om vir U aan te bied nie.

Ek kan alleen maar van U ontvang.

Skriflesing – Matt 21:33-46 (39)

Daar was ’n grondbesitter wat ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34 Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35 Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36 Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37 Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38 Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’39 Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

Nadenke

Die slawe en die seun is onderskeidelik die profete en Jesus wat gestuur is om God se hart vir ‘n gevalle mensdom te kom wys.  Hulle wou dit nie hoor en sien nie. 

Hoe was die Here MET JOU besig die afgelope tyd?

Dink aan hoe die volgende

sy boodskappers was om sy hartklop vir jou te laat hoor:

  • ‘n erediens
  • vermaning deur my man of vrou, kinders of ouers, vriend of vriendin, iemand anders
  • omstandighede in my lewe
  • goeie dinge
  • bekommernisse of hartseer

Gebed – Ephrem die Siriër (4de eeu)

O Heer en Meester van my lewe!

Verlos my van my traagheid en my selfsug,

my hebsug en my oppervlakkigheid.

Gee aan U dienskneg ‘n eenvoudige gees,

nederigheid, geduld en liefde.

Ja, Heer en Koning,

gee aan my die insig om my eie foute raak te sien en

nie my medemens te oordeel nie.

U is van ewigheid tot ewigheid die Een wat red en seën.

Amen

Skriflesing – Matt 22:1-14 (10)

1 Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2 Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3 Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4 Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5 “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6 En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7 Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8 “Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9 Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10 Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

Nadenke

  • Jy is genooi!  Sien in jou geestesoog God met oop arms wat jou nooi na Hom – om aan te sit by sy fees. 

Ervaar:         “ek is God se geliefde kind”. 

Aanvaar:       “ek is aanvaar net soos ek is”. 

Al dink jy dat jy te onwaardig is om deur Hom aanvaar of gebruik te word.  Sy bruilofsfees is juis vir die onwaardiges, sê die gelykenis!

  • Sien hoe Hy jou vuil klere vir jou uittrek en vir jou die bruilofskleed aantrek.

Jou sonde word geruil vir sy geregtigheid

  • Jy sal verbaas wees wie saam met jou na die feesmaal genooi is en saam met jou, langs jou, aan dieselfde tafel sit.  Dit kan wees:
    • Iemand van ‘n ander bevolkingsgroep, taalgroep, inkomstegroep, ander persoonlikheid.
    • Dit kan my kompetisie wees.
    • Dit kan my bure en my kollegas wees. 
  • Ondersoek jou gesindheid teenoor mense wat anders is as jy. 

        Maak ‘n plan om teenoor iemand van wie jy nie vanself sal hou nie,

    liefdevol te gaan optree,

    omdat hy/sy ook ‘n genooide na die bruilofsmaal van die Lam is.

Gebed van toewyding – Ignatius van Loyola

Neem, o Here, my vryheid, my gedagtes, my begrip en my wil. 

Alles wat ek is en alles wat ek het, het U aan my gegee. 

Ek gee dit alles aan U oor sodat U dit kan gebruik soos U wil. 

Gee my net u liefde en genade

– dan is ek ryk genoeg en sal ek niks meer begeer nie.

Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom

________________________________________________

Hierdie boodskap is geleen by ‘n bron onbekend aan my

Mag dit vir jou tot ‘n seën wees!

Seënwense

Ds Matthys

_______________________________________________________________