BY GOD VIND EK RUS EN KALMTE
Skriflesing: Psalm 131
(1) “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. (2) Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.
(3) Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
Dis nou ‘n besondere beeld wat Dawid hier gebruik….
- Die ongelooflike iets wat gebeur wanneer ‘n klein mensie
wat siek of moeg of onseker is teen mamma se bors gaan lê.
- Dis daardie iets wat net mamma se nabyheid bied
niemand anders nie
Daardie uitdrukking in die ogies
- daardie rustigheid
- daardie tevredenheid
Dit is iets daarvan wat Dawid hier in Psalm 131 in gedagte het
as hy beskryf wat God aan sy kinders bied
- wanneer ons soms so ontsaglik moeg en oorlaai raak
in ons eie unieke moeilike omstandighede
Dawid is hier besig met ‘n persoonlike getuienis.
Dit is ‘n intieme lied waarin hy iets kom deel van sy verhouding met God.
Dawid was een van die mees suksesvolle konings wat Israel gehad het
Hy het mag en rykdom gehad
- alles wat in die oë van die wêreld dinge is om mee te spog.
Maar nie Dawid nie… Hy sê:
Daar is by my geen hoogmoed of selfverheffing nie.
- Ek weet, Here, dit is maar net U genade en U liefde en U troue sorg
In nederigheid kom gee hy erkenning aan God:
- Alles wat ek het en is, het ek van U af gekry!
Sy ouer broer het hom van selfverheffing beskuldig
Toe Dawid vir vir sy broers kos vat terwyl hulle besig was met ‘n oorlog
- en die reus Goliat hulle uitdaag en almal te bang is (1 Samuel 17).
- kom Dawid toe en hy begin navraag doen oor hierdie storie
Dis toe wat sy ouer broer hom vir Dawid vererg en hom afjak:
- Jy kom nou net hier jou neus in ons sake druk en jouself te verhef.
- Wie kyk na die diere daar in die veld?
Maar Dawid sê:
Here, U ken my hart.
U weet dat ek nie vol is van myself nie, al mag ander mense dalk so dink
Want jy sien:
Dawid het met ‘n ander oog gekyk as die ouens wat bang is of jaloers is
- omdat hy God se grootheid en teenwoordigheid al baie ervaar het
- toe hy die vee opgepas en beskerm het teen leeus en die bere
Daarom kon Dawid sê:
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is, want U is in beheer Here.
Wat sê Dawid met hierdie woorde?
Eenvoudig net dit:
Ek bekommer my nie oor die dinge wat lyk asof dit oor my gaan spoel nie
- U is die een wat vir my sorg.
- Ek laat dit in U hande
- Ek vertrou op U daarvoor!
Onthou jy die verhaal van die dissipels se vrees toe die storm kom
- En Jesus se herinnering dat Hy mos by hulle is
- en dat hulle daarom moes rustig wees
Dawid se rustigheid binne die lewe se storms is presies daarom:
- SY VERTROUE IN GOD!
Ons het in die weke wat verby is telkens verwys na die talle kere
dat die geestelike leiers die mense aan die verlede herinner het
- kyk oor jou skouer na God se trou in die verlede
- en skep daaruit moed vir die toekoms
Vanoggend herhaal Dawid se belydenis hierdie boodskap weer ‘n keer:
Skep moed vir môre want die een wat tot hier gesorg het is steeds daar
- en HY nooi jou om al jou sorge by Hom te los
Die probleem is dat ons nie altyd hierdie Dawid-gesindheid het nie
Ons reageer op een van twee maniere:
Ons raak dikwels arrogant soos kinders wat op die stadium kom van:
- EK SAL SELF
- soos Jojakim en sy bende: ons het God nie nodig nie
MET DIE VERSKRIKLIKSTE GEVOLGE
Of ons raak beangs soos Saul en sy leër teenoor Goliat
- niemand van ons kan hierdie oorlogmasjien aanvat nie
EN VERLAMMING TREE IN
Verlamming en ineenstorting…
- dit gebeur met ‘n kerk en samelewing wat die oog op God verloor
Daarom herinner ek jou weer vanoggend met Dawid se lied
aan Dawid se gesindheid die dag toe hy voor Goliat gestaan het:
- God is in beheer
- Die mag en heerskappy is in SY hande
Hoor jy dit?
- selfverhefing en hoogmoed is nie by Dawid nie
‘n Beter lewe en wêreld is ons droom
Ons is geroep om daaraan mee te werk
Maar ons raak soms moedeloos en gedaan geveg
ONS KRY DAAI MOEG EN OORLAAI EN VERLAMMINGS GEVOEL
Want ons sukkel om te leer: ONS KAN NIE SELF NIE.
- Ons kannie self die dinge waarmee ons in onsself baklei wen nie
- Ons kannie die gesindheid van mense rondom ons verander nie
- Ons kannie die bose wat die mooi onderdruk uitoorlê nie
En ons HOEF ook nie self nie
Ons kan alleen met die hulp van die Here.
- Hy wil hê dat almal wat moeg en oorlaai is, rus by Hom moet vind.
- Hy wil die wat op Hom vertrou daar sterk maak om te gaan wen!
Hy is in beheer
- Wag op die Here, Losberg
- Wag op Here broer en suster ELKEEN van ons
nou en vir altyd.
- Hy wag vir ons!
Amen!